4hoo Die volgende oggend begin die gesingery van een of
ander geloof oor ‘n luidspreker reg langs die kamp. Die volgende oomblik is die
hele distrik se honde wakker en prober harder blaf as die singende man. Toe die
singer stop en die honde bedaar begin die kraaie! Teen die tyd is almal wakker
en 6h30 ry ons Ngorogoro toe. 7h00 Staan ons voor die hek saam met seker 30
Land Cruiser bakkies vol toeriste. Ons betaal R 1700 per person om in die park
in te gaan! Ons ry in ‘n digte woud in en begin klim tot 2401m. Dit is koud en
mistig, maar die volgende oomblik le die krater voor ons. Werklik ‘n
ongelooflike gesig. Ons ry tot onder in die krater en sien baie diere. Die
diere in die Krater is die makste diere wat ek nog gesien het. Jy moet omtrent
jou venster afdraai en die sebras ‘n hou op die boud gee voor hulle uit die pad
loop.Ongelukkig is die pad uit die krater toe en moet ons die hele pad terugry
om Serengeti toe te gaan.
Ons ry weer tot bo en soos ons weer daal le die Serengeti
voor ons. ‘n Grasvlakte so ver soos jy kan sien. Ons begin ry en slaan die
ergste sinkplaat pad wat ek in my lewe nog gery het! 150km daarvan. Dit bederf eintlik die hele ondervinding want
daars nie ‘n manier wat jy na die natuur kan kyk nie. As jy wegkyk is jy van
die pad af. Asof dit nie erg genoeg is nie is daar honderde Land Cruiser’s vol
toeriste wat teen ‘n verskriklike spoed van voor af kom. Hulle ry in die middel
van die pad en ry ons onder die klippe.
Uiteindelik kom ons by die hek aan en moet weer R1200 per person
betaal! Die personeel is maar redelik nors. Op die pad kry ons ook ons eerste
pap wiel. Kobus slaan ‘n klip en die band en rim sien sy dinges!
Nou weer sinkplaat tot by ons kamp! Daar gekom kyk ons die
toilette een kyk en besluit dit gaan nie werk nie! Haaglik! Ons begin ‘n ander
kamp soek en kamp by Tumbili.( Nie veel beter nie ). Die Aucamps besluit om die
volgende dag Mwanza toe te ry terwyl die ander nog ‘n aand in die Serengeti
gaan slaap.
Die volgende oggend vroeg ry ons om eers diere te gaan kyk
oppad na Mwanza. Die Serengeti is ongelooflik mooi, met BAIE diere, maar die
pad en die geriewe maak dit by tye onaangenaam. Na nog 135km van sinkplaat is
ons uiteindelik op teer.
Mwanza is die tweede grootste stad in Tanzania en langs Lake
Victoria. Die verkeer is erg en vir die van julle wat gewonder het :Mens kan
vir jou ‘n hout enkelbed gaan koop en hom met jou fiets huis toe vat! Ons wil
by die Yactclub kamp, maar daar is ‘n troue aan die gang en ons besluit om by
die Ryan’s Bay Hotel te bly. Dit is ‘n baie mooi Hotel met goeie diens,wifi en
vriendelike personeel. Ons aandete buite op die stoep langs die meer was Heerlik!
Ons waiter Betty kon glad heel skaflik Afrikaans praat! En hulle verkoop
Klipdrift! Dankie John en Betty!
More skuif ons Yachtclub toe en wag vir die ander. Hoop
hulle kom veilig hier aan.
No comments:
Post a Comment