Ons is redelik maklik en goedkoop deur Uganda se grens (R250
– 52 000 Uganda shilings). Nou ry ons weer aan die linkerkant van die pad
en ons horlosies word weer ‘n uur aangestel. Ons trek geld en begin ry na die
reenwoude.
Dit is die een bergpas na die ander. Elke stukkie grond word
bewerk. Jy kan nie glo dat hulle teen sulke hellings en so hoog hulle landerye
maak nie. Ons bly klim tot ‘n hoogte van 2525m bo seevlak en draai op ‘n nou
grondpadjie af na die Bwindi Inpanetrable Forest. Ons kry ons eerste reen
vandat ons van die huis af weg is.Op een draai moes ons ‘n boom omtrek sodat
die trok kan deurkom! Dit raak donker en ons weet nie waar ons is nie. Ons kry ‘n
kampplek wat deur die gemeenskap besit word en slaan in die donker kamp op.
Ambrose is die bestuurder van die kamp en ons is aangenaam verras! Dit is ‘n
mooi netjiese kampplek met warm storte vir R300 per nag ontbyt ingesluit.
Die volgende oggend vra ons vir Ambrose wat daar is om te sien
aangesien ons nie permitte het vir die Gorillas nie. Hy se die wat wil Gorillas
sien moet die volgende oggend 7h30 reg wees en hy sal kyk wat hy kan doen. Ek
en Kobie besluit ons gaan die kans vat en pak vol verwagting vir ons rugsakkies
en slaap omtrent niks nie. Die volgende oggend kry ons ‘n lift saam met mense
van Engeland na die kantore. Ons gaan sit eenkant en besef daar is te veel
mense – ons gaan nooit plek kry sonder ‘n bespreking nie. Ambrose se net : You
sit and look like you belong! As ‘n gids ons vra in watter groep ons is
antwoord ons net iets in Afrikaans en wag vir Ambrose wat in die kantoor besig
is om iemand se arm te draai. Uiteindelik kom Ambrose terug en se ons moet
kantoor toe kom. Hy se as ons $500 betaal kan ons gaan. Ons moet net ons
paspoorte wys - wat by die kampplek le.
Ambrose verduidelik weer vreeslik en se ons moet net betaal – ons kan later die
paspoort nommers vir hulle stuur. Buite begin die klomp uitlanders ons al
snaaks aankyk want ons lyk nie eintlik of ons belong nie! Al die mense het ‘n
jaar terug al bespreek en $750 betaal. Toe die gids vra in watter voertuig ons ry
antwoord ons weer in Afrikaans en Ambrose druk ons by ‘n taxi in.
Ons is oppad om die Gorillas te gaan kyk en Kobie haal
sommer 2 tissues uit. Die trane sit vlak! Ons ry so 2km. Stop en gaan in die
bosse in. Dit is ‘n stywe klim en jy raak vining moeg van die lugdruk. Na ons
so 40 min gestap het, kom die trackers van voor af en se die Gorillas is so
200m verder. Ons moet ons rugsakke en stapstokke los en verder loop. Die
volgende oomblik sien jy hulle waar hulle heel rustig onder die bosse sit. Dis
regtig ongelooflik. Hulle is heeltemal gewoond aan mense en ons loop tot so 5m
van hulle af. Op ‘n stadium het ek in een se pad gestaan wat wou verby kom en
sy is seker ‘n meter van my af verby! Die silverback (Groot mannetjie) is enorm
groot maar skaam vir die kamera! Ons het so uur en ‘n half by hulle gebly en
toe moes ons terug. Dit was die R5000 oor en oor werd!
Die middag hou ons die plaaslike vrouens dop wat ‘n ete
voorberei vir die hele gemeenskap en die mense daag op in pakke klere! Hulle is
ongelooflik vriendelik en verduidelik hoe hulle kook en laat ons aan alles
proe. Terwyl ons by die Gorillas was het hulle blykbaar daar in die kamp hulle
bok en 2 hoenders geslag. Die kinders kry ‘n Living Ball en speel heeldag
sokker en ek deel my baba truitjies en beanies wat ek gebrei het uit.
Die gemeenskap dra ons op die hande en ons kan nie genoeg
van die babas kry nie!
Die volgende oggend ry ons weer deur die woud terug en vat
die pad Kampala toe. Ons is nou 8650km en ‘n maand van die huis af.
By Kabale gaan ek en Hendrik Barcleys Bank toe om te prober Dollars
kry. Die Gorillas het ons budget bietjie deurmekaar gemaak. Die vriendelike man
daar reel vir ons dollars en ons ry 2 blokke verder om gou ‘n simkaart te koop. Toe ons omkyk
staan Mnr Barcleys Bank uitasem agter ons met ons kredietkaart in die hand. Hy
het agter ons aangehardloop met die kaart!
Na Kabale slaan ons weer die potholes. Gelukkig het ons
radios sodat die ander wee tons is nie weg nie – ons is net in ‘n pothole! Al
verskil tussen hulle potholes en Suid Afrika s’n is hulle maak hulle s’n reg.
Oorals word daar nuwe paaie gebou. Die volgende oomblik is die pad weer mooi en
ons vorder goed. Half vyf die middag is ons by die ewenaar en ‘n man
demonstreer hoe die water in die Suidelike Halfrond antikloksgewys uitloop en
in die Noordelike Halfrond kloksgewys. Reg op die ewenaar draai die water glad
nie en loop net reguit by die gatjie uit.
Skemer kom ons in Kampala aan en slaan die ergste verkeer
wat ek in my lewe nog gesien het. Dis mense, motorfietse, busse en karre! En
ons kry nie ons hotel nie. Die volgende oomblik trap die tannie voor ons rem en
sy word getref deur ‘n V6 Toyota! Ons stop Kampala se verkeer en probeer vir
haar verduidelike ons sal nie wegjaag sonder om te betaal nie! Sy ry saam met
ons Protea Hotel toe en sy laat kom haar mechanic on ;n kwotasie te kom gee. Na
so uur settle ons op $500 en almal kry ‘n koeldrank! Die verklarings word op ‘n
stuk papier geskryf en die verkeersman ( baie vriendelik en behulpsaam) teken
as getuie. Haar kinders kry ‘n living ball en almal is pelle!
Ons eet 22h00 aandete – stort – en gaan slaap.
More ry ons Jinga toe vir ‘n paar dae se kamp
No comments:
Post a Comment