Saturday, 13 July 2013

Rwanda


Na ons potjie die vorige aand, is dit vroeg bed toe. Vroeg die volgende oggend is ons gou vir oulaas na Leon se workshop vir ‘n paar laaste reperasies en toe vat ons die pad Biharamulo toe. Die plantegroei verander weer en dit raak meer bergagtig.

By Biharamulo ry ons agter die GPS aan na Boma Guest House. Ons ry eers ‘n paar keer verby die plek voor ons besef ons is op die regte plek. Dis ‘n ou klooster waar jy kan slaap. Was jare terug ‘n fort en ek dink nie daar is iets gedoen aan die plek in die laaste 30 jaar nie, maar dis Afrika! Die meisie wat daar werk is vriendelik en behulpsaam en vir R30 pppn kuier ons baie lekker. Hendrik en Kobie is die enigste wat kans gesien het vir die koue stort!

Van daar is dit so 200km na die grens van Rwanda. Ons ry op ons eerste ferry oor Lake Victoria en toe weer ‘n teerpad vol potholes! Net voor die grens kry ons die UN se konvooi. Impressive! Seker ‘n kilometer lang ry van UN voertuie oppad na die DRC. Alles gaan vining en sonder voorval by die grens en ons ry oor die Kagera rivier tot in Rwanda. Die grenskruising is ook baie maklik en VERNIET! Tot Kobus ontdek hy het nie amptelik Tanzania verlaat nie… Dit kos hom terugstap Tanzania toe om sy paspoort te laat stamp!

Nou ry ons aan die regterkant van die pad. Ek skrik my elke keer boeglam as die motors aan my kant verbykom met ‘n helse spoed – en ek kan nie uitswaai nie!

Rwanda is ongelooflik mooi en skoon! Die paaie is in ‘n uitstekende toestand en die winkeltjies langs die pad is netjies. Geen honed en papiere en ander diere op die pad nie. Die spoedbeperking is 60 km/h deur die hele land, maar jy kan nie eintlik vinniger ry nie. Dit is baie bergagtig en die landerye is oorals teen die berge gemaak. Hoofsaaklik piesangs en hier en daar rys.

Kigali is ‘n baie mooi groot modern stad.Petrol kos R16/l. Ons soek die toeriste kantoor, maar die het geskuif en ons besluit om na die Ntarama kerk buite Kigali te gaan. Hier is 5000 vermoor in die Volksmoord van 1994. Dit was onstellend maar ek is bly ek het dit gesien. Die skedels en beendere word in die kerk bewaar. Toe ek die gids vra of hy ‘n Hutu of ‘n Tutsi is, antwoord hy : Hy was ‘n Tutsi wat die Volksmoord oorleef het maar Hutu’s en Tutsi’s bestaan nie meer nie. Almal is nou “Rwandians”. Suid Afrika kan bietjie kom leer van vergewe en vergeet en aanbeweeg!

Van daar na Ruhengeri langs die woude. Ons gaan soek ‘n plek om te slaap en loop 5 Amerikaners raak wat al 3 jaar in Rwanda werk. Ons ontmoet hulle by ‘n lodge 2180m bo seespieel wat oor die mere uitkyk. Ongelooflik mooi maar R12000.00 pppn!. Ry maar terug dorp toe en slaap by ‘n hotel wat meer ons sak pas!

More gaan ons Uganda toe. Rwanda het my beindruk!

No comments:

Post a Comment