Die volgende oggend voor ons ry kom die 3 seuns vir wie
Roelof hulle die woordeboek gegee het by die Hotel aan met ‘n tradisionele serp
vir die hele gesin. Gelukkig reen dit nie vanoggend nie en kan ons rustig
bakkies pak en in die pad val.
Ons het besluit om liewers veilig te speel en terug te ry na
waar ons petrol in kanne kan koop en gouer op die teerpad kan kom. Net ingeval
iemand gesleep moet word. Heaven forbid!! Op ons pad terug kom ons barmhartige
petrol samaritaan van die vorige dag van voor af en stop eers weer om seker te
maak ons is ok. Julle verstaan nie! Die Goedheid van die mense in Afrika ken
geen perke nie.
Op Gashena kry ons nog petrol op die swartmark vir R15/l.
Dis weer die een pas na die ander. Vandag se passe is nie so
hoog nie, maar baie steiler. Die hoogste – 3068m.
Ons kom op Mekele aan en bly in die Milano Hotel. 4 Ster
nogal vir R200/kamer! Ons is nie lus vir hulle kos nie, maar gaan tog maar
eetsaal toe. Om kos te bestel in Afrika is ‘n kuns op sy eie, maar uiteindelik
kry almal iets bestel. Wat ‘n verassing! Die lekkerste kos sover in Ethiopie.
Die hele rekening saam met ‘n bottle wyn is R400!
Volgende oggend staan ons ure om te probeer geld trek by ‘n
stukkende ATM om groceries te koop. Ons ry verder na Gheralta terwyl Kobus na
sy remme laat kyk en Roelof weer gaan probeer om sy aircon aan die gang te kry.
Die pad na Gheralta verander na ‘n klip landskap. Al die
huisies is van klip en al die berge is vol klipmuurtjies. Ons kry ons gids en
hy vat ons na die Adulis Hotel in Hawsien. BAIE basic, maar baie skoon met ‘n
heerlike warm stort. Dit vir R150 per kamer. Later die middag vat die gids ons
na een van die klipkerke van die streek. Hierdie klipkerke is nie so mooi soos
Lalibela sn nie, maar is 1500 jaar oud. Ons ry deur riviere om daar te kom.
Gelukkig werk die Toyota se 4x4 weer. Daarna is dit ‘n halfuur se stap. Dit was
heerlik stil met omtrent geen mense nie. Iemand het die priester gaan roep om
vir ons oop te sluit. Die muur skilderye is ongelooflik mooi. Ek kan nie glo dat
dit so bewaar gebly het vir 1500 jaar nie!
Oppad terug gesels ons lekker met die gids oor politiek ens.
Hy is glad nie impress met Suid Afrika se land reform nie. By hulle behoort
alle grond aan die staat en jy kry jou stukkie om te bewerk vir R30/jaar.
Indien jy nie jou grond bewerk en ‘n oes afhaal nie, word jy beboet en jou
grond word vir iemand anders gegee. Die klipmuurtjies om te help met die erosie
word ook deur die plaaslike mense gebou en hulle word verged met kos of saad.
Dit is ook die streek waar al Ethiopie se atlete vandaan kom.
Die ander kom eers donker by die hotel aan en die Jode braai
weer varkvleis in die Hotel se agterplaas.
Volgende oggend staan ons rustig op, want ons gaan net so
130km na Axum ry. Op Nebelet klim ons uit en loop bietjie rond.Hendrik speel
tot tafeltennis teen die locals Ons besluit dis tyd om ‘n skaap te koop. Naby
die mark kry Kobus ‘n skapie waarmee hy tevrede is en die word aangery na ‘n
lekker plekkie om geslag te word, ‘n Local slagter slag chop-chop vir Klippies
(Ons Skapie). Klippies word opgesny en ons ry tot buite die dorp om die vars
lewertjie gaar te maak. Moet se dit was heerlik!
Ons is verder na Axum en kry sommer dadelik ‘n gids om ons
‘n paar sites te gaan wys. Eers na die obelisks. My kop kan nog nie lekker
verstaan dat die goed 2600 jaar oud is nie. Die een obelisk wat omgeval het is
gemaak uit ‘n soliede stuk rots van 520 ton. Hulle het blykbaar 3500 olifante
gebruik om dit te vervoer. Volgens die gids is 95% van die skate nog nie eers
ontdek nie. Daar bly nog 27000 mense op die terein van die ou stad wat geskuif
moet word na die nuwe stad om met die opgrawings voort te gaan. Ons is ook na
die kerk waar hulle beweer word die 10 gebooie gehou word. Niemand mag daar
ingaan nie en dit skat word opgepas deur een man wat sy lewe lank op die
terrein bly.
Ons book in by die Arc Hotel en skink vir ons ‘n doppie in
die hotel se agterplaas! Ons is 50km van Eritrea!
More gaan ons Gonder toe en dan Soedan!
Vroegoggend bewerk ons eers gou Klippies se vleis. Sny mooi
boudtjies en bladjies en pak in sakkies vir die vrieskas.
Vandag het ons 320km om te ry na Gondar, maar volgens die
locals gaan dit ons 9 ure neem. Na 110km slaan ons die grondpad en dit is
bergpas op bergpas. Haarnaald draad na Haarnaald draad! 150km Daarvan en dis ‘n
slegte grondpad. Alles padwerke. Maar die uitsig maak op vir die pad! Van die
mooiste op ons reis sover. Ons ry tot bo in die wolke!
60km Voor Gondar kry Kobus weer ‘n pap wiel terwyl ons aanry
om solank ‘n hotel te gaan soek. Ons pak af by die Goha Hotel. Baie luuks in
vergelyking met die hotelle waar ons die laaste 2 weke gebly het. Hier is tot
WiFi – Net jammer die dorp se internet is af!!!!Ons vang bietjie op met die
nuus van die wereld. Ons het lanklaas ‘n tv gehad wat werk! Blykbaar is daar
vloede in Sudan! Ons sal maar kyk as ons more daar kom.
Ons bly so lekker en besluit om nog ‘n dag in Gondar te bly
en na die kastele te gaan kyk.
No comments:
Post a Comment