Sunday, 4 August 2013

Na Loyangalani ( Voor Addis Ababa )

Sorry die deel moet voor Addis Ababa ingekom het

Van Archers Post besluit ons om Loyangalani toe te ry. Ons moet die van Dolderens op Wamba kry. Ons het ons misgis met die pad. Baie slegte grondpad! Die omgewing is egter ongelooflik mooi. Ons kry die van Dolderens in Wamba en koop ‘n paar goedjies in die dorp. Ons besluit om te ry tot dit donker word aangesien ons nie Loyangalani gaan maak nie. Ons ry eers deur die berge en dan deur Kenia se vlaktes. Ons is die hoogste wat ons nog was - 2637m bo seevlak. Die vlaktes is so wyd dat ons Roelof op die radio opvang omtrent 60km verder.

Langs die pad kry ons die mooiste mense. Die Samburu stam met hulle tradisionele klere. Die kinders is bang vir ons en hardloop die bosse in as ons stilhou. Ons stop by 2 kinders en gee vir hulle lekkers. Ek probeer met die een praat en die enigste Engelse word wat sy ken is ‘Happy’!

Die pad raak beter en ons ry deur die mooiste landskap oppad na South Horr. South Horr is een van die mooiste dorpies op ons toer deur Kenia. Ons kamp baie lekker by Samburu Sports Club vir R 45 pp. Die mense is so vriendelik en hulpvaardig en die geriewe is uitstekend. Die volgende oggend het ons net 80km om te ry tot by Loyangalani so ons kan bietjie laat slaap.

Die pad na Lake Turkana is ongelooflik mooi. Die landskap van rivierlope en bome verander later in ‘n maan landskap van vulkaniese klip. Dis ‘n dorre woestyn waar niks groei nie. En dit raak lekker warm!

Die volgende oomblik sien jy die ongelooflike meer voor jou, reg langs die woestyn. Ons sak af na die meer en gaan kamp by Palm Shades langs ‘n oase. Dis ‘n heerlike 43 grade! Nou soek ons nie meer kampplekke met warm storte nie. Hoe kouer hoe beter!

Op die oomblik sit ek die blog buite onder die volmaan en skryf. Dit is nou 22h00 en omtrent 30 grade. Die wind waai nogal sterk maar ons kla nie. Koel ons darem ‘n bietjie af!

Van Loyangalani ry ons Koobi toe. Nog altyd langs die meer. Die pad is plek plek maar sleg maar dis deel van die avontuur. By Koobi kamp ons voor die HQ van die Sibiloi Nationale Park. Dit is ‘n heerlike aand. Ons eerste aand in 3 dae sonder wind! Die maan kom op oor die vlaktes en die temperatruur is omtrent 30 grade. Toe ons gaan inkruip begin die wind! Ons le weer heel aand en luister na tentvlappe wat raas. Behalwe Roelof. Hy slaap op enige plek in enige omstandigede!

Die volgende oggend pak ons op en die trok moet vir Kobus en Hendrik uit die sand uit winch. Ons ry eers na die museum daar naby om te gaan kyk na die argeologies uitgrawings wat al langs die meer gedoen  is. Baie interessant.

Intussen vind ons uit die Toyota se 4x4 werk nie. En het heel waarskynlik nog glad nie gewerk van ons uit George is nie. Sover kom ons reg.

Ons ry tot op Illeret en stop by die polisie kantoor om ons name in ‘n boek te skryf! Dan ry jy verder en sien later op die GPS jy is nou in Ethiopie! Oppad Omarati toe (so 50km van die grens) stop ons by ‘n paar kinders wat met ‘n klein balletjie sokker speel. Ons gee vir hulle ‘n living ball en kyk hoe hulle sokker speel! Ons ry op ‘n lekker sandpad tot in Omarati en soek na die Immigrasie kantoor. Ons is die enigste mense daar en tog vat dit ure! Alles word baie stadig met die hand geskryf! Dit is nou 2005 in Ethiopie! Weird!Die doeane mannetjie neem sy werk baie ernstig op en ons moet al ons toerusting verklaar en hy wil fisies die chassis nommers van die voertuie sien. Net Roelof kry sy chassis no en hy gee maar moed op met die res van ons! Ons soek ‘n kampplek en kamp by Awassa Camp. Primitief maar ten minste skoon. Hoop nie die wind kom vanaand weer op nie. More ry ons Arba Minch toe.

Ons ry nou weer aan die regterkant van die pad.  In Turmi wag ons vir Kobus en Roelof hulle en gesels solank met die locals! Ek het ‘n foto van my kinders op die dashboard vasgeplak wat groot aandag trek as ons erens stop. Op Turmi bied ‘n man Hendrik 100 000 beeste aan as hy met Lana kan trou! Haha.

Die vrouens in Ethiopie doen al die werk terwyl die mans onder ‘n boom le en slaap. Toe ek die man vra hoekom hulle die vrouens so hard laat werk antwoord hy : Only job man has is driving on the matrass!

Ons ry verder en ‘n mens kan nie glo dat jy binne 300km van ‘n warm woestyn na groen heuwels met ‘n misreen ry nie. Ons ry tot by Arba Minch en kamp by die Bekela Molla Hotel. En toe begin dit reen!! Ons slaan kamp op in die reen en sit in ‘n modderbad en kosmaak! Dit klink vreeslik maar dit was eintlik lekker en groot pret! Ons kry die grootste vlakvark wat ek nog gesien het wat kom kyk wat ons maak vir ete .

Van Arba Minch ry ons deur die mooiste bergpas na Awassa. Hier is net verskriklik baie mense en diere op die paaie. Ons deel weer ‘n living ball uit op ‘n hoogte van 2075m bo seevlak! Die mense is weer heel vriendelik en hier is miljoene kinders. Hendrik probeer Ethiopie se hongersnood eiehandig verlig deur vir al wat ‘n kind is lekkers uit te deel!

Die taal raak nou ‘n probleem en min mense verstaan Engels. Ons kan ook nie lees wat op hulle borde langs die pad staan nie. Toe Roean op Arba Minch by die hotel vra of hulle wifi het toe antwoord hulle :’Yes – Single or Double!’

By Awassa soek ons kampplek maar kry niks aanvaarbaar nie. Ons besluit om vanaand in die Heili Resort te bly en more gaan ons Addis Ababa toe vir ‘n paar dae om net ‘n slag bakkies reg te pak en ‘n paar voertuig problem uit te sort.

Petrol kos R9.50/l en ons kry 2 ETB vir 1Rand

 

No comments:

Post a Comment