Monday, 5 August 2013

Harar tot Kombolcha


Die aand vat ons weer die tuk tuks om die hyenas te gaan soek saam met ons gids. By die eerste plek roep die man daar in die bosse in maar al wat kom is die hyenas! Die gids besluit ons moet na ‘n ander plek toe ry. Weer in die tuk tuks tussen al die mense deur. Ek weet nie wanneer slaap die mense nie!  En daar is hulle 6 Hyenas wat net rustig daar rondstaan en wag vir hulle kos. Die Hyena man begin hulle voer en Roelof, Kobus en Roean is braaf genoeg om deel te neem aan die voerdery. Dis eintlik ongelooflik hoe mak die hyenas is. Die drie manne buk vooroor dan klim die hyena op hulle rug om die vleis by te kom. Sal later vir julle die fotos wys.

Nou weer terug nuwe dorp toe om te gaan eet saam met die gids wat vir ons ‘n tafel bespreek het. As julle dalk ooit in Harar kom gebruik asb vir Hailu Gashaw as ‘n gids. Hy was baie goed ingelig en ken die geskiedenis. Hy het regtig die hele dag moeite gedoen om seker te maak ons geniet Harar. Daarvoor vra hy R200 vir ons almal. Ons het hom op die ou end R 350 betaal.

Die volgende oggend is dit terug Awash toe met dieselfde mooi pad.Dit is sommer koud die oggend maar ons daal weer al die pad tot by Awash. Harar 12grade – Awash 33grade!  In Awash bly ons in die Awash Meridian Hotel. Nie te sleg as jy dink ons betaal R175 per kamer nie. Al probleem is ons is lus vir ons eie kos. Eers wil hulle niks weet dat ons braai in die parkeer area nie, maar toe vertel ons vir hulle ons is Jode en ons mag nie hulle kos eet nie! Hulle organise tot vir ons kole! So sit die klomp Jode toe lekker en varktjops van alle dinge in die hotel se parkinglot en braai! Net voor die tjoppies gaar is breek daar ‘n moeder van ‘n donderstorm los en ons moet hardloop met ons kole en al onder ‘n stoepie in. So word mens gestraf vir ‘n geliegtery!

Dit reen sommer lekker die nag en die volgende oggend is die hele wereld onder modder. Drink koffie en val in die pad. Vroegoggend is ons regtig ‘n gevaar op die pad! Terwyl jy die vorige dag se vliee en muskiete uit die kar uit probeer kry en almal skel wat vir jou hoot, kom jy agter jy ry al weer aan die verkeerde kant van die pad! Ons ry op ‘n pragtige teerpad deur groen vlaktes wat sonder dat jy dit eintlik agterkom in ‘n woestyn verander. Die pad is so mooi dat ons besluit om Upper Miele te skip en aan te ry Kombolcha toe. So maak ons sommer ook ons dag wat ons agter is op.

Toe slaan ons wat ek dink ‘n teerpad is! Potholes wat jy nie kan glo nie! Gelukkig raak die pad ‘n grondpad. Kobus ry voor om ons te waarsku vir gate en voertuie van voor. Die mense wat vir Kobus ken sal hulle kan indink :’ Ouens hier kom ‘n uh uh uh trok met ‘n uh uh uh geel uh uh tool op aan’ Ons wag angstig om te sien hoe lyk ‘n trok met ‘n geel tool op. Ons moes lag toe die trok wat ‘n moviese geel padskraper vervoer van voor af kom!

Die volgende oomblik is ons uit die woestyn en begin in die mooiste groen bergpasse ry met pragtige ou bruggies. Dit begin sommer lekker reen! Die tyd van die jaar reen dit elke dag in Ethiopie.

So 16h00 is ons in Kombolcha en book in die Sunny Side Hotel in vir R300 ‘n kamer. In Afrika is ‘n single room ‘n kamer met een dubbel bed en ‘n double room een met 2 enkelbeddens. Het ons ‘n rukkie gevat om dit uit te figure!

Kuier bietjie in die bar en eet maar weer hoender. Darem nie te sleg nie! Kobus se as ons in George land en hulle vra waantoe nou gaan ons se Woolworths toe!

Ons is nou so 200km van Djibouti se grens!

No comments:

Post a Comment