Eet die volgende oggend ontbyt by die hotel. As julle so
baie van rys hou soos ek sal julle Afrika geniet. Jy kry tot rys vir ontbyt!
Daar is nie petrol op Kembolcha nie en ons ry Desse toe
oppad na Lalibela. Dis baie koud hier in die berge van Ethiopie en dit reen
elke dag. Vanoggend is dit 10 grade!
Ek kan nie vir julle beskryf hoe mooi dit hier is nie. Ons
klim binne 15km van 1700m na 2575m. Ons ry die een na die ander bergpas op en
af.
By die volgende groot dorp is daar petrol, maar die krag is
af. Ry maar verder en hoop vir die beste.Ons vra by al die dorpies maar niemand
het petrol nie.
Het ek al gese hoe lui die mans in Ethiopie is! Hulle loop
langs die vrouens teen die bergpasse op terwyl sy met ‘n vrag hout op haar
skouers loop,
Ons ry deur die mooiste groen landskappe tot iemand Roelof 50km
voor Lalibella voorkeer en se die pad het verspoel ons sal ‘n ander pad moet
ry. Asof ons genoeg petrol het om ‘n ompad te ry! Ek moet se die ompad was oor
en oor die moeite werd. Ons ry oor die volgende bergpas tot op ‘n hoogte van
3555m. Selfs op die hoogte bly en boer mense, As jy van groen hou moet jy in
die reen seisoen in Ethiopie kom toer. Dis die groenste groen wat ek nog gesien
het. Ons draai aanmekaar ons ruite af en haal ons sonbrille af om seker te maak
dit is regtig so groen. Op ‘n uitkykpunt praat ons met ‘n toergids wat ook
oppad is Lalibela toe. Hy gee ons die ‘blye’ nuus dat daar ook nie op Lalibela
petrol is nie. Nou begin ons somme maak en besluit ons moet maar aanry en hoop
ons kry by iemand ‘n kan of twee petrol.
Lalibela sit hoog in die berge en dis koud en nat. Die
einste gids beveel ‘n hotel aan en ons book in vir R200 per nag vir die
kamer.Mooi groot kamer met heerlike warm water! En die mense is weereens sooo
vriendelik en behulpsaam. Die gids begin sy pelle bel vir petrol en kry iemand
wat die volgende dag petrol van ‘n ander dorp af sal bring. Ons parkeer die
voertuie reg voor die kamer en maak ‘n slag ons eie kos. Eet in die kamer want
dit reen alweer.
Die volgende oggend reel die hotel vir ons ‘n gids en ‘n
taxi om na die klipkerke te gaan kyk. Teen R500 per person is ons maar langtand
agter die gids aan kerke toe. Ek kan dit nie beskryf nie! Kerke wat ‘n 1000
jaar oud is en uit soliede rotse gekap is. Die dak van die kerke is gelyk met
die grond en dan is die kerk in die rots af uitgekap. Daar is 11 van die kerke
en ons monde hang oop. R500 was weereens die moeite werd. Vandag is 1 Augustus
in Ethiopie en hulle begin vas vir 2 weke. Die toeriste loop deur die kerke
terwyl die plaaslike mense besig is om in die kerke te bid. Dit was vir my
nogal ongemaklik om so inbreuk te maak terwyl hulle wil aanbid, maar hulle is
dit blykbaar gewoond. Jy trap letterlik oor hulle terwyl almal fotos neem. Die
geskiedenis is baie interesant (kan nooit onthou hoe spel mens dit nie)maar te
veel om nou te noem.
Na die kerke doen ons ‘n bietjie shopping, trek geld en wag
vir die petrol. Uiteindelik kom die petrol. 100 liter teen R26/l. Ons is maar
te bly. Die petrol lyk maar bietjie suspect, maar ons sal more agterkom of dit
regtig 100% petrol is!
Ons loop ‘n paar groepies jong mense raak wat baie goed
Engels praat. Hulle kom praat met jou en vra of jy nie vir hulle ‘n woordeboek
kan koop nie. Hulle families bly in die platteland en hulle huur klein
kamertjies op Lalibela om skool te gaan. Hulle het letterlik niks, maar is in
graad 10-12 . Hulle maak skoene skoon om huur te betaal van R150 per maand. Die
een seun gee vir ons ‘n briefie in Engels wat vra vir donasies sodat hulle ‘n
sokker bal kan koop vir hulle o/17 sokkerspan. Hulle kon nie hulle luck glo toe
hulle ons tweede laaste Living Ball kry nie! Vir die van julle wat nie weet wat
die Living Balls is wat ons so uitdeel nie sal ek later die hele storie vertel.
More ry ons Aksum toe waar, na wat beweer word, die
oorspronklike 10 gebooie in ‘n kerkie bewaar word. Daar is ook klipkerke wat al
1500 jaar oud is.
No comments:
Post a Comment