Wednesday, 21 August 2013

Ons draai om


Met lang gesigte eet ons die volgende oggend vir oulaas ontbyt by ons gunsteling Hotel. Ek het nooit gedink ons sal weer suid moet ry nie. Vlieg ja maar nie ry nie…. Ons weet ons het die regte besluit geneem om om te draai maar dit bly maar n teleurstelling.

Ons speedo staan op 14968km toe ons wegtrek by die Goha Hotel in Gondar. Ons gaan vandag langs Lake Tana afry rigting Addis Ababa. By Bahar Dar, aan die suidpunt van Lake Tana, ry ons so 30km om na die watervalle van die Blou Nyl te gaan kyk. Ons ry tot by die dorpie Tis Abay en loop so 20min tot by die valle. Die valle is mooi die tyd van die jaar met al die baie reen. Terug Bahar Dar toe en dan Suid om te kyk hoe ver ons kan vorder. Ons ry nou weer op die Ethiopiese Hooglande en vorder tot by Debra Markos. Ons slaap in die FM International Hotel vir R125 per kamer! Die kamer is glad nie sleg nie – met TV en warm water! En die kos is ook glad nie sleg nie en soooo goedkoop.

Ons skip ontbyt die volgende oggend want ons moet vandag weer deur Addis Ababa en wil aanry tot Awassa. Dis ‘n pad wat ons nog nie gery het nie en weereens asemrowend mooi. Ons is nou al sooo lus vir ons eie kos en vir kamp. Ons het laas in Awash by die watervalle gekamp.

Ons ry weer hoog in die berge en daal op een stadium 1300m in 20km. My ore pyn erger as in ‘n vliegtuig wat kom land. Ons daal tot ‘n baie mooi brug oor die Blou Nyl net om aan die anderkant van die rivier weer 1500m te styg in 30km!

Gelukkig begin Addis se verkeer nie die kant weer 60km voor die stad nie. Ons is darem nou al baie slimmer en kry dit reg om om die stad te ry nadat ons  vir die 5e keer verby ons Hotel ry.Aan die anderkant van die stad is dit weer ‘n redelik gemors en dit REEN!!! Op ‘n stadium kry ons tot ‘n bietjie hael

Die heel vakansie se ek dit is onmoontlik om deur Afrika te ry sonder om een of ander tyd ‘n ongeluk te sien gebeur nie. Wel vandag was ons dag! Terwyl ons die trok voor ons verbygaan kom ‘n klein grys motortjie met ‘n stink spoed hier langs my venster verby (Ons ry nog aan die regterkant van die pad) Twee wiele op die gruis en hy sien kans om ons en die trok gelyk verby te gaan. Die pad is skaars wyd genoeg vir 2 definitief nie vir 3 nie! Toe hy weer op die teer wil klim begin die sports. Hy verloor beheer en ek weet nou nog nie hoe hy nie die kar gerol het nie! Hy kom tot stilstand aan die anderkant van die pad….. en begin stadig agteruit loop tot in ‘n dam. Ons stop en sien hulle is ok en besluit om liewers te ry voor hulle ‘n sondebok soek en ons moet probeer verduidelik aan mense wat ons nie verstaan nie. Teen die tyd het die polisie en ‘n paar ander voertuie al gestop. Ons roep vir Dollies op die radio en vertel wat gebeur het sodat hulle weet as hulle die kar in die dam sien staan.Toe Dollies verby kom sien hulle die winch voor aan die trok en hulle stop hom om die ou uit die dam te trek! Die ou moes defnitief gesien het ons travel saam. Het seker gedink die een wit man ry my in die dam in en dan kom sy pel en trek my uit. Dollies ry verder en glo dit as julle wil – 50km verder toe kom die einste karretjie weer met ‘n stink spoed verby hulle met ‘n gehoot en arms wat waai om dankie te se!

Ons is baie bly toe ons weer voor die Haile Resort in Awasha stop. Ons bly weer so lekker soos laas en word baie hartlik terug verwelkom deur die personeel. Ons eet lekker en gaan slaap. More wil ons Kenia haal.

Dis oggend en ons wil vandag na 3 weke uit Ethiopie uit. Die 500km Moyale toe is nie so lekker soos ons gehoop het nie. Dit wissel van potholes na grond na splinternuwe teer. Eers is dit tropies met pynappels, piesangs en koejawels wat langs die pad verkoop word en sonder dat jy dit eers agterkom raak dit warmer en droer. Die mense verander ook en ons sien weer die mans wat hand om die lyf loop of hande vashou. Blykbaar kultuur en nie Gay nie! Baie weird!

Ek sien my eerste kameel 250km van Kenia se grens terwyl ek bestuur en Hendrik le en slaap. Ek is so opgewonde – maak hom amper wakker. Kamele beteken warm en droog! Ek was die afgelope 3 weke in die groenste, natste, hoogste mooiste wereld wat ek in my lewe nog was, maar dit sal nooit so mooi wees soos die droe veld met kameeldorings  wat ons nou weer kry nie. Is maar gebou vir die woestyn !

Op die oomblik sit ek in die bakkie en skryf. Ons is 60km van Kenia. Gelukkig het ek al my simkaarte gehou so hopelik het ek more sein om julle weer op hoogte te bring.

 

No comments:

Post a Comment