Monday, 26 August 2013

Lake Chala


Ons het by Kirsten en Gerhardt gehoor van Lake Chala en wat ‘n lekker kamp. Aan die eenkant is Kilimanjaro en ander die anderkant die meer. Dit is die lekkerste kamp sover. Geen ape, bobbejane of muskiete! Net ‘n lonesome kraai wat ons in die oggende wakker raas. Daar is ‘n Restaurant en baie skoon geriewe met warm water.

My tipe plek! Kameeldoring bome, lang geel gras ‘n vuurtjie en nog ‘n volmaan ook. ‘n Mooi memory! En ons sien darem vining Kilimanjaro se top.

Die ander vorder tot by Tsavo Natuurreservaat in Kenia. Hulle is op die oomblik seker so 100km van ons af maar in ‘n ander land. Ons sal mekaar seker weer oor so dag of wat in Mombasa kry.

Die volgende oggend weer oor die grens Kenia toe om die ander in Malindi te kry. Na ‘n slegte grondpad, ‘n besige teerpad, en ‘n nat grondpad kry ons die ander in Malindi. Ons ry 10m bo seevlak en sien die see vir die eerste keer in 69 dae – 18100km van die huis! Ons is teleurgesteld met die feit dat die kus van Kenia glad nie voorsiening maak vir kampers nie! Die kampplekke op die GPS bestaan nie een meer nie. Op die ou einde kamp ons by KFS (Kenia Forest Service). Baie lekker kamp, maar ons wou so graag by die see kamp!

Die oggend gou dorp toe en die Aucamps en van Dolderens ry  langs die kus af. Na nog ‘n lang soektog book ons maar by Simba en Oryx Cotaages in vir die nag. Baie lekker plekkie. Ons braai ‘n paar tjoppies met braaibroodtjies. More Tanzania toe terwyl die Watsons gou iets aan die bakkie laat doen. Ons wil gaan soek na die prentjie in ons kop van kamp by die see onder die palmbome.

So ‘n uur se ry na Mombasa oor die ferry en nog so uur na Tanzania se grens. Die pad aan Tanzania se kant is ‘n pragtige teerpad, maar daarmee saam kom die speedtraps en spoedwalle. Nie lank nie en die speedcop spring voor die trok in. Na ‘n lang storie van hoeveel moeilikheid hulle al gehad het en sy arme vrou wat ‘n week laas gestort het en die kinders wat elke dag in trane uitbars, laat gaan die speedcop hulle met trane in sy oe!

Ons ry vol verwagting na Peponi Beach Resort wat volgens die GPS ‘n kampplek op die see het. Die laaste 26km is weer ‘n terrible grondpad, maar ons kry uiteindelik ons kampplek op die see onder die palmbome! Die Watsons sluit die aand by ons aan na ‘n heerlike aand in Hemingways in Malindi!

Ons kan ‘n slag al ons goed afpak en ‘n behoorlike kamp opslaan. Die water is 30grade! Hendrik en Roean maak vir ons ‘n heerlike hoenderpot.Langs ons slaan 4 locals ‘n tentjie op en begin hulle hifi inmekaar sit! Ons verwag die ergste! Ons weet die Afrika musiek gaan enige oomblik die branders stil speel. Die volgende oomblik begin Don Williams en Kenny Rogers se The Gambler saggies speel. Ons monde hang oop. Dit was weird! Maar ‘n mens kan ook net soveel Kenny Rogers (wat nou en dan vashaak) hanteer! En 7h00 die oggend voel ons lus om vir hulle ons ipod te leen – net vir ‘n bietjie iets anders vir ‘n slag.

Vandag beplan ons – Sometimes I sit and think and sometimes I just sit! En Klippies se bladjies gaan pot toe!

More gaan ons met die boot uit om te gaan snorkel en op ‘n eiland te gaan lunch!

Ek kry ook ‘n groot verassing.  - ‘n email van Emilly Turinawe van Uganda. Ek het vir haar van my baba truitjies wat ek gebry het gegee en sy laat weet my haar seuntjie is gebore en sy stuur sommer foto’s ook! Dis nogal baie special. Veral die bewoording van die email!

Hello friend.

Hope you are enjoying your trip.

Am happy for you having loved me when you met me at Gorilla Friends camp site  in Ruhija and gave me clothes for the baby

on 6th august,I gave birth to a baby boy and his first name is Ahabwe.

Thank you so much you can view his photos.

Emilly.




 

Wednesday, 21 August 2013

Van Moyale na Arusha


Ons kom op Moyale aan en besluit om solank deur die grens te gaan terwyl ons vir die ander wag. Kobus het sy 6e pap wiel en is so 2 ure agter ons. Die grens tussen Ethiopie en Kenia loop deur die middle van die dorp. Aan die Ethiopie kant laat stamp ons ons paspoorte en toe ons oor die straat loop na customs met ons carnets hoor ons hulle maak oor 20 minute toe. Ons kan nie omdraai nie, want ons paspoorte is klaar gestamp. Ons gaan deur en book by die Alyusra Hotel in. Baie basies! Toe die ander op die grens kom is alles reeds toe en hulle moet aan die Ethiopie se kant slaap. Ons is in dieselfde dorp maar in verskillende lande!

Die volgende oggend kom hulle uiteindelik teen 10h30 in Kenia en Roelof ry solank terwyl ons gou Kobus se wiel laat regmaak. Vandag moet ons die Moyale/ Marsabit pad ry. Die mense wat deur Afrika reis ken almal die pad. Dit staan bekend as die slegste pad in Afrika! Hulle wou eers dat ons betaal om in ‘n konvooi te ry, maar ons besluit, nadat ons bietjie rondgevra het, dit is veilig genoeg om op ons eie te ry. Met die opkom slag het ons al langs die pad gevra wat die toestand van die pad is. Party se dis heelpad teer ander se dis so 40km sleg…. Ons sal maar self moet sien. En die pad is sleg!!!! Maar ek moet se dis nog nie so sleg soos die pad deur die Serengeti nie! Ons besluit om te ry tot dit donker word want ons gaan nie Marsabit haal nie. Toe dit skemer word begin ons rondkyk vir ‘n plekkie om te kamp. Ons sien ‘n Land Cruiser langs die pad staan langs ‘n nuut geboude  geboutjie en besluit om te gaan vra of dit veilig is om langs die pad te kamp. Soos regdeur Afrika ontmoet ons al weer ‘n ongelooflike vriendelike man – Mohammed. Hulle is besig om ‘n hospitaaltjie daar in die middle van nerens te bou en hy se ons kan met liefde daar kamp en hulle water en toilette gebruik. Ons kry tot ons eie wag wat ons sal oppas!

Ons is sooo bly om ‘n slag te kamp. Dit is 19h00 en 28 grade! Ons steek ‘n vuurtjie aan en sit onder ‘n amper volmaan in die veld erens in Kenia en luister na Bob Seger! Hendrik maak vir ons ‘n  pot van Klippies se ribbetjies. Hy se dis ‘n Suid Arabiese potjie!!

Die volgende dag wil ons tot Nairobi haal en ry die laaste 20km van die 300km slegte grondpad tot by Archers Post en van daar na Nanyuki. Op Nanyuki is ‘n baie lekker supermark waar ons weer bietjie kos ens koop. En regte Crunchies en Wholenut chocolate!

Nou begin die roadblocks en die speedbumps in die middle van die teerpad weer! Dit is lekker om weer ‘n lekker supermark te kry, maar dit is of ons nie meer in Afrika is nie – Ons is maar net op ‘n gewone vakansie!

Ons kom natuurlik weer te laat in Nairobi aan! Die verkeer is iets vreeslik! Maar na seker3 ure in spitsverkeer kry ons plek in die Countryvillage Hotel aan die buitewyke van Nairobi. Die Aucamps besluit ons gaan die volgende dag Arusha toe om by Kirsten en Gerhardt (Van my kinders se vriende wat daar bly) te gaan kuier en kyk of ons Kilimanjaro kan sien. Die ander gaan ‘n dag of twee in Nairobi bly om aan hulle voertuie te laat werk. Ons sal mekaar weer kry erens langs die kus oor ‘n paar dae.

Die volgende oggend laat ons eers gou die bakkie was en ontmoet weereens ‘n man waarmee ons lekker gesels terwyl hulle ons bakkie was. Toe ons hom vertel hoe ongelooflike en leersame ondervinding die trip is, se hy hulle het ‘n gesegde in hulle taal wat se : You don’t know if your mother’s food is good if you have’nt tasted another mothers food!

Ons kom in Arusha aan en neem gou die bakkie Toyota toe vir nuwe breakskoene. Ons kry vir Kirsten en Gerhardt en kuier heerlik. Gaan eet die aand by ‘n lekker Suid Afrikaanse sportsbar met rugbytruie en Klipdrif! Ons slaap die aand by hulle en gaan vandag na Lake Chala om weer te kamp.

Ons draai om


Met lang gesigte eet ons die volgende oggend vir oulaas ontbyt by ons gunsteling Hotel. Ek het nooit gedink ons sal weer suid moet ry nie. Vlieg ja maar nie ry nie…. Ons weet ons het die regte besluit geneem om om te draai maar dit bly maar n teleurstelling.

Ons speedo staan op 14968km toe ons wegtrek by die Goha Hotel in Gondar. Ons gaan vandag langs Lake Tana afry rigting Addis Ababa. By Bahar Dar, aan die suidpunt van Lake Tana, ry ons so 30km om na die watervalle van die Blou Nyl te gaan kyk. Ons ry tot by die dorpie Tis Abay en loop so 20min tot by die valle. Die valle is mooi die tyd van die jaar met al die baie reen. Terug Bahar Dar toe en dan Suid om te kyk hoe ver ons kan vorder. Ons ry nou weer op die Ethiopiese Hooglande en vorder tot by Debra Markos. Ons slaap in die FM International Hotel vir R125 per kamer! Die kamer is glad nie sleg nie – met TV en warm water! En die kos is ook glad nie sleg nie en soooo goedkoop.

Ons skip ontbyt die volgende oggend want ons moet vandag weer deur Addis Ababa en wil aanry tot Awassa. Dis ‘n pad wat ons nog nie gery het nie en weereens asemrowend mooi. Ons is nou al sooo lus vir ons eie kos en vir kamp. Ons het laas in Awash by die watervalle gekamp.

Ons ry weer hoog in die berge en daal op een stadium 1300m in 20km. My ore pyn erger as in ‘n vliegtuig wat kom land. Ons daal tot ‘n baie mooi brug oor die Blou Nyl net om aan die anderkant van die rivier weer 1500m te styg in 30km!

Gelukkig begin Addis se verkeer nie die kant weer 60km voor die stad nie. Ons is darem nou al baie slimmer en kry dit reg om om die stad te ry nadat ons  vir die 5e keer verby ons Hotel ry.Aan die anderkant van die stad is dit weer ‘n redelik gemors en dit REEN!!! Op ‘n stadium kry ons tot ‘n bietjie hael

Die heel vakansie se ek dit is onmoontlik om deur Afrika te ry sonder om een of ander tyd ‘n ongeluk te sien gebeur nie. Wel vandag was ons dag! Terwyl ons die trok voor ons verbygaan kom ‘n klein grys motortjie met ‘n stink spoed hier langs my venster verby (Ons ry nog aan die regterkant van die pad) Twee wiele op die gruis en hy sien kans om ons en die trok gelyk verby te gaan. Die pad is skaars wyd genoeg vir 2 definitief nie vir 3 nie! Toe hy weer op die teer wil klim begin die sports. Hy verloor beheer en ek weet nou nog nie hoe hy nie die kar gerol het nie! Hy kom tot stilstand aan die anderkant van die pad….. en begin stadig agteruit loop tot in ‘n dam. Ons stop en sien hulle is ok en besluit om liewers te ry voor hulle ‘n sondebok soek en ons moet probeer verduidelik aan mense wat ons nie verstaan nie. Teen die tyd het die polisie en ‘n paar ander voertuie al gestop. Ons roep vir Dollies op die radio en vertel wat gebeur het sodat hulle weet as hulle die kar in die dam sien staan.Toe Dollies verby kom sien hulle die winch voor aan die trok en hulle stop hom om die ou uit die dam te trek! Die ou moes defnitief gesien het ons travel saam. Het seker gedink die een wit man ry my in die dam in en dan kom sy pel en trek my uit. Dollies ry verder en glo dit as julle wil – 50km verder toe kom die einste karretjie weer met ‘n stink spoed verby hulle met ‘n gehoot en arms wat waai om dankie te se!

Ons is baie bly toe ons weer voor die Haile Resort in Awasha stop. Ons bly weer so lekker soos laas en word baie hartlik terug verwelkom deur die personeel. Ons eet lekker en gaan slaap. More wil ons Kenia haal.

Dis oggend en ons wil vandag na 3 weke uit Ethiopie uit. Die 500km Moyale toe is nie so lekker soos ons gehoop het nie. Dit wissel van potholes na grond na splinternuwe teer. Eers is dit tropies met pynappels, piesangs en koejawels wat langs die pad verkoop word en sonder dat jy dit eers agterkom raak dit warmer en droer. Die mense verander ook en ons sien weer die mans wat hand om die lyf loop of hande vashou. Blykbaar kultuur en nie Gay nie! Baie weird!

Ek sien my eerste kameel 250km van Kenia se grens terwyl ek bestuur en Hendrik le en slaap. Ek is so opgewonde – maak hom amper wakker. Kamele beteken warm en droog! Ek was die afgelope 3 weke in die groenste, natste, hoogste mooiste wereld wat ek in my lewe nog was, maar dit sal nooit so mooi wees soos die droe veld met kameeldorings  wat ons nou weer kry nie. Is maar gebou vir die woestyn !

Op die oomblik sit ek in die bakkie en skryf. Ons is 60km van Kenia. Gelukkig het ek al my simkaarte gehou so hopelik het ek more sein om julle weer op hoogte te bring.

 

Wednesday, 14 August 2013

Gonder


Die Hotel kry vir ons ‘n gids om na die kastele van Gonder te gaan kyk. Die kastele is in die 17e eeu gebou en baie impressive. Die gids het ons ook na die swembad van Koning (het nou vergeet) geneem waar die locals nou nog elke jaar op die 19e Januarie ‘n baie kleurvolle fees hou. Die mans mag op die dag die meisie waarvan hy hou met ‘n suurlemoen gooi. As die meisie die suurlemoen hou dan is hulle ‘n paartjie!

Die volgende oggend val ons vroeer as gewoonlik (gelukkig) in die pad na Sudan se grens. Die van Dolderens word uitgechap uit Ethiopie – En toe begin die moeilikheid! Hulle wil ons nie in Sudan toelaat nie. Ons ry na Sudan se kant en praat mooi, maar niks wil werk nie. Ons was onder die indruk ons kan op die grens ‘n transit visum na Egipte kry.

Weer terug  Ethiopie toe om die van Dolderens weer terug gechap te kry! Met ‘n ‘Sorry its lunch’ word ons aangese om op ‘n bankie te gaan sit en wag! Lunch is 2 ure lank! Ons wag 2.5 ure voor hulle die paspoorte weer stamp en ons terugry Gonder toe met planne om iemand Addis Ababa toe te laat vlieg om die visums te kry. Gelukkig is ons oppad terug na ons lekker hotel van die vorige 2 dae. Na nog ‘n pap wiel kom ons net mooi 13 ure later weer by ons hotel aan. Ons besluit dis te laat en sal die volgende oggend die relings begin tref. Baie teleurgesteld dat ons nie in Sudan is nie!

7 uur Die volgende oggend begin die moeilikheid in Egipte. Toe die onluste in Aswan begin,  maak ons die call om terug te draai huis toe! Teen die middag besef ons daar was ‘n rede hoekom ons nie in Sudan kon ingaan nie! ‘n Noodtoestand word in Egipte afgekondig en ons sou nooit die land kon binne gaan nie! Dit was so bestem! Ons is baie teleurgesteld dat ons nie ons reis kon klaarmaak nie, maar dit was ‘n wyse besluit! Miskien eendag.

Die res van die dag relax ons heerlik in die hotel se sitkamer terwyl dit buite reen. Kinders doen huiswerk en van die grootmense vang ‘n slapie terwyl ek facebook en die blog op datum bring. Selfs Roelof die tegnologies gestremde het op sy eie sy eerste comment op facebook onder die knie gekry!

More begin ons met ‘n nuwe avontuur! Ons gaan probeer om op ander roetes huis toe te ry en nuwe plekke te sien. Ons sal julle op hoogte hou van ons reis terug en sien julle middel September! Ons het gedurende ons trip hierheen gepraat van ‘n trip langs die ooskus van Afrika af oor twee jaar. Miskien doen ons hom sommer nou!

 

Monday, 12 August 2013

Fotos op facebook

Fotos op ons facebook page. Stuur friend request na Afritrio 2013 om ons facebook blad te join

Van Lalibela na Gondar


Die volgende oggend voor ons ry kom die 3 seuns vir wie Roelof hulle die woordeboek gegee het by die Hotel aan met ‘n tradisionele serp vir die hele gesin. Gelukkig reen dit nie vanoggend nie en kan ons rustig bakkies pak en in die pad val.

Ons het besluit om liewers veilig te speel en terug te ry na waar ons petrol in kanne kan koop en gouer op die teerpad kan kom. Net ingeval iemand gesleep moet word. Heaven forbid!! Op ons pad terug kom ons barmhartige petrol samaritaan van die vorige dag van voor af en stop eers weer om seker te maak ons is ok. Julle verstaan nie! Die Goedheid van die mense in Afrika ken geen perke nie.

Op Gashena kry ons nog petrol op die swartmark vir R15/l.

Dis weer die een pas na die ander. Vandag se passe is nie so hoog nie, maar baie steiler. Die hoogste – 3068m.

Ons kom op Mekele aan en bly in die Milano Hotel. 4 Ster nogal vir R200/kamer! Ons is nie lus vir hulle kos nie, maar gaan tog maar eetsaal toe. Om kos te bestel in Afrika is ‘n kuns op sy eie, maar uiteindelik kry almal iets bestel. Wat ‘n verassing! Die lekkerste kos sover in Ethiopie. Die hele rekening saam met ‘n bottle wyn is R400!

Volgende oggend staan ons ure om te probeer geld trek by ‘n stukkende ATM om groceries te koop. Ons ry verder na Gheralta terwyl Kobus na sy remme laat kyk en Roelof weer gaan probeer om sy aircon aan die gang te kry.

Die pad na Gheralta verander na ‘n klip landskap. Al die huisies is van klip en al die berge is vol klipmuurtjies. Ons kry ons gids en hy vat ons na die Adulis Hotel in Hawsien. BAIE basic, maar baie skoon met ‘n heerlike warm stort. Dit vir R150 per kamer. Later die middag vat die gids ons na een van die klipkerke van die streek. Hierdie klipkerke is nie so mooi soos Lalibela sn nie, maar is 1500 jaar oud. Ons ry deur riviere om daar te kom. Gelukkig werk die Toyota se 4x4 weer. Daarna is dit ‘n halfuur se stap. Dit was heerlik stil met omtrent geen mense nie. Iemand het die priester gaan roep om vir ons oop te sluit. Die muur skilderye is ongelooflik mooi. Ek kan nie glo dat dit so bewaar gebly het vir 1500 jaar nie!

Oppad terug gesels ons lekker met die gids oor politiek ens. Hy is glad nie impress met Suid Afrika se land reform nie. By hulle behoort alle grond aan die staat en jy kry jou stukkie om te bewerk vir R30/jaar. Indien jy nie jou grond bewerk en ‘n oes afhaal nie, word jy beboet en jou grond word vir iemand anders gegee. Die klipmuurtjies om te help met die erosie word ook deur die plaaslike mense gebou en hulle word verged met kos of saad. Dit is ook die streek waar al Ethiopie se atlete vandaan kom.

Die ander kom eers donker by die hotel aan en die Jode braai weer varkvleis in die Hotel se agterplaas.

Volgende oggend staan ons rustig op, want ons gaan net so 130km na Axum ry. Op Nebelet klim ons uit en loop bietjie rond.Hendrik speel tot tafeltennis teen die locals Ons besluit dis tyd om ‘n skaap te koop. Naby die mark kry Kobus ‘n skapie waarmee hy tevrede is en die word aangery na ‘n lekker plekkie om geslag te word, ‘n Local slagter slag chop-chop vir Klippies (Ons Skapie). Klippies word opgesny en ons ry tot buite die dorp om die vars lewertjie gaar te maak. Moet se dit was heerlik!

Ons is verder na Axum en kry sommer dadelik ‘n gids om ons ‘n paar sites te gaan wys. Eers na die obelisks. My kop kan nog nie lekker verstaan dat die goed 2600 jaar oud is nie. Die een obelisk wat omgeval het is gemaak uit ‘n soliede stuk rots van 520 ton. Hulle het blykbaar 3500 olifante gebruik om dit te vervoer. Volgens die gids is 95% van die skate nog nie eers ontdek nie. Daar bly nog 27000 mense op die terein van die ou stad wat geskuif moet word na die nuwe stad om met die opgrawings voort te gaan. Ons is ook na die kerk waar hulle beweer word die 10 gebooie gehou word. Niemand mag daar ingaan nie en dit skat word opgepas deur een man wat sy lewe lank op die terrein bly.

Ons book in by die Arc Hotel en skink vir ons ‘n doppie in die hotel se agterplaas! Ons is 50km van Eritrea!

More gaan ons Gonder toe en dan Soedan!

Vroegoggend bewerk ons eers gou Klippies se vleis. Sny mooi boudtjies en bladjies en pak in sakkies vir die vrieskas.

Vandag het ons 320km om te ry na Gondar, maar volgens die locals gaan dit ons 9 ure neem. Na 110km slaan ons die grondpad en dit is bergpas op bergpas. Haarnaald draad na Haarnaald draad! 150km Daarvan en dis ‘n slegte grondpad. Alles padwerke. Maar die uitsig maak op vir die pad! Van die mooiste op ons reis sover. Ons ry tot bo in die wolke!

60km Voor Gondar kry Kobus weer ‘n pap wiel terwyl ons aanry om solank ‘n hotel te gaan soek. Ons pak af by die Goha Hotel. Baie luuks in vergelyking met die hotelle waar ons die laaste 2 weke gebly het. Hier is tot WiFi – Net jammer die dorp se internet is af!!!!Ons vang bietjie op met die nuus van die wereld. Ons het lanklaas ‘n tv gehad wat werk! Blykbaar is daar vloede in Sudan! Ons sal maar kyk as ons more daar kom.

Ons bly so lekker en besluit om nog ‘n dag in Gondar te bly en na die kastele te gaan kyk.

Wednesday, 7 August 2013

Kembolcha na Lalibela


Eet die volgende oggend ontbyt by die hotel. As julle so baie van rys hou soos ek sal julle Afrika geniet. Jy kry tot rys vir ontbyt!

Daar is nie petrol op Kembolcha nie en ons ry Desse toe oppad na Lalibela. Dis baie koud hier in die berge van Ethiopie en dit reen elke dag. Vanoggend is dit 10 grade!

Ek kan nie vir julle beskryf hoe mooi dit hier is nie. Ons klim binne 15km van 1700m na 2575m. Ons ry die een na die ander bergpas op en af.

By die volgende groot dorp is daar petrol, maar die krag is af. Ry maar verder en hoop vir die beste.Ons vra by al die dorpies maar niemand het petrol nie.

Het ek al gese hoe lui die mans in Ethiopie is! Hulle loop langs die vrouens teen die bergpasse op terwyl sy met ‘n vrag hout op haar skouers loop,

Ons ry deur die mooiste groen landskappe tot iemand Roelof 50km voor Lalibella voorkeer en se die pad het verspoel ons sal ‘n ander pad moet ry. Asof ons genoeg petrol het om ‘n ompad te ry! Ek moet se die ompad was oor en oor die moeite werd. Ons ry oor die volgende bergpas tot op ‘n hoogte van 3555m. Selfs op die hoogte bly en boer mense, As jy van groen hou moet jy in die reen seisoen in Ethiopie kom toer. Dis die groenste groen wat ek nog gesien het. Ons draai aanmekaar ons ruite af en haal ons sonbrille af om seker te maak dit is regtig so groen. Op ‘n uitkykpunt praat ons met ‘n toergids wat ook oppad is Lalibela toe. Hy gee ons die ‘blye’ nuus dat daar ook nie op Lalibela petrol is nie. Nou begin ons somme maak en besluit ons moet maar aanry en hoop ons kry by iemand ‘n kan of twee petrol.

Lalibela sit hoog in die berge en dis koud en nat. Die einste gids beveel ‘n hotel aan en ons book in vir R200 per nag vir die kamer.Mooi groot kamer met heerlike warm water! En die mense is weereens sooo vriendelik en behulpsaam. Die gids begin sy pelle bel vir petrol en kry iemand wat die volgende dag petrol van ‘n ander dorp af sal bring. Ons parkeer die voertuie reg voor die kamer en maak ‘n slag ons eie kos. Eet in die kamer want dit reen alweer.

Die volgende oggend reel die hotel vir ons ‘n gids en ‘n taxi om na die klipkerke te gaan kyk. Teen R500 per person is ons maar langtand agter die gids aan kerke toe. Ek kan dit nie beskryf nie! Kerke wat ‘n 1000 jaar oud is en uit soliede rotse gekap is. Die dak van die kerke is gelyk met die grond en dan is die kerk in die rots af uitgekap. Daar is 11 van die kerke en ons monde hang oop. R500 was weereens die moeite werd. Vandag is 1 Augustus in Ethiopie en hulle begin vas vir 2 weke. Die toeriste loop deur die kerke terwyl die plaaslike mense besig is om in die kerke te bid. Dit was vir my nogal ongemaklik om so inbreuk te maak terwyl hulle wil aanbid, maar hulle is dit blykbaar gewoond. Jy trap letterlik oor hulle terwyl almal fotos neem. Die geskiedenis is baie interesant (kan nooit onthou hoe spel mens dit nie)maar te veel om nou te noem.

Na die kerke doen ons ‘n bietjie shopping, trek geld en wag vir die petrol. Uiteindelik kom die petrol. 100 liter teen R26/l. Ons is maar te bly. Die petrol lyk maar bietjie suspect, maar ons sal more agterkom of dit regtig 100% petrol is!

Ons loop ‘n paar groepies jong mense raak wat baie goed Engels praat. Hulle kom praat met jou en vra of jy nie vir hulle ‘n woordeboek kan koop nie. Hulle families bly in die platteland en hulle huur klein kamertjies op Lalibela om skool te gaan. Hulle het letterlik niks, maar is in graad 10-12 . Hulle maak skoene skoon om huur te betaal van R150 per maand. Die een seun gee vir ons ‘n briefie in Engels wat vra vir donasies sodat hulle ‘n sokker bal kan koop vir hulle o/17 sokkerspan. Hulle kon nie hulle luck glo toe hulle ons tweede laaste Living Ball kry nie! Vir die van julle wat nie weet wat die Living Balls is wat ons so uitdeel nie sal ek later die hele storie vertel.

More ry ons Aksum toe waar, na wat beweer word, die oorspronklike 10 gebooie in ‘n kerkie bewaar word. Daar is ook klipkerke wat al 1500 jaar oud is.

 

Monday, 5 August 2013

Harar tot Kombolcha


Die aand vat ons weer die tuk tuks om die hyenas te gaan soek saam met ons gids. By die eerste plek roep die man daar in die bosse in maar al wat kom is die hyenas! Die gids besluit ons moet na ‘n ander plek toe ry. Weer in die tuk tuks tussen al die mense deur. Ek weet nie wanneer slaap die mense nie!  En daar is hulle 6 Hyenas wat net rustig daar rondstaan en wag vir hulle kos. Die Hyena man begin hulle voer en Roelof, Kobus en Roean is braaf genoeg om deel te neem aan die voerdery. Dis eintlik ongelooflik hoe mak die hyenas is. Die drie manne buk vooroor dan klim die hyena op hulle rug om die vleis by te kom. Sal later vir julle die fotos wys.

Nou weer terug nuwe dorp toe om te gaan eet saam met die gids wat vir ons ‘n tafel bespreek het. As julle dalk ooit in Harar kom gebruik asb vir Hailu Gashaw as ‘n gids. Hy was baie goed ingelig en ken die geskiedenis. Hy het regtig die hele dag moeite gedoen om seker te maak ons geniet Harar. Daarvoor vra hy R200 vir ons almal. Ons het hom op die ou end R 350 betaal.

Die volgende oggend is dit terug Awash toe met dieselfde mooi pad.Dit is sommer koud die oggend maar ons daal weer al die pad tot by Awash. Harar 12grade – Awash 33grade!  In Awash bly ons in die Awash Meridian Hotel. Nie te sleg as jy dink ons betaal R175 per kamer nie. Al probleem is ons is lus vir ons eie kos. Eers wil hulle niks weet dat ons braai in die parkeer area nie, maar toe vertel ons vir hulle ons is Jode en ons mag nie hulle kos eet nie! Hulle organise tot vir ons kole! So sit die klomp Jode toe lekker en varktjops van alle dinge in die hotel se parkinglot en braai! Net voor die tjoppies gaar is breek daar ‘n moeder van ‘n donderstorm los en ons moet hardloop met ons kole en al onder ‘n stoepie in. So word mens gestraf vir ‘n geliegtery!

Dit reen sommer lekker die nag en die volgende oggend is die hele wereld onder modder. Drink koffie en val in die pad. Vroegoggend is ons regtig ‘n gevaar op die pad! Terwyl jy die vorige dag se vliee en muskiete uit die kar uit probeer kry en almal skel wat vir jou hoot, kom jy agter jy ry al weer aan die verkeerde kant van die pad! Ons ry op ‘n pragtige teerpad deur groen vlaktes wat sonder dat jy dit eintlik agterkom in ‘n woestyn verander. Die pad is so mooi dat ons besluit om Upper Miele te skip en aan te ry Kombolcha toe. So maak ons sommer ook ons dag wat ons agter is op.

Toe slaan ons wat ek dink ‘n teerpad is! Potholes wat jy nie kan glo nie! Gelukkig raak die pad ‘n grondpad. Kobus ry voor om ons te waarsku vir gate en voertuie van voor. Die mense wat vir Kobus ken sal hulle kan indink :’ Ouens hier kom ‘n uh uh uh trok met ‘n uh uh uh geel uh uh tool op aan’ Ons wag angstig om te sien hoe lyk ‘n trok met ‘n geel tool op. Ons moes lag toe die trok wat ‘n moviese geel padskraper vervoer van voor af kom!

Die volgende oomblik is ons uit die woestyn en begin in die mooiste groen bergpasse ry met pragtige ou bruggies. Dit begin sommer lekker reen! Die tyd van die jaar reen dit elke dag in Ethiopie.

So 16h00 is ons in Kombolcha en book in die Sunny Side Hotel in vir R300 ‘n kamer. In Afrika is ‘n single room ‘n kamer met een dubbel bed en ‘n double room een met 2 enkelbeddens. Het ons ‘n rukkie gevat om dit uit te figure!

Kuier bietjie in die bar en eet maar weer hoender. Darem nie te sleg nie! Kobus se as ons in George land en hulle vra waantoe nou gaan ons se Woolworths toe!

Ons is nou so 200km van Djibouti se grens!

Sunday, 4 August 2013

Na Loyangalani ( Voor Addis Ababa )

Sorry die deel moet voor Addis Ababa ingekom het

Van Archers Post besluit ons om Loyangalani toe te ry. Ons moet die van Dolderens op Wamba kry. Ons het ons misgis met die pad. Baie slegte grondpad! Die omgewing is egter ongelooflik mooi. Ons kry die van Dolderens in Wamba en koop ‘n paar goedjies in die dorp. Ons besluit om te ry tot dit donker word aangesien ons nie Loyangalani gaan maak nie. Ons ry eers deur die berge en dan deur Kenia se vlaktes. Ons is die hoogste wat ons nog was - 2637m bo seevlak. Die vlaktes is so wyd dat ons Roelof op die radio opvang omtrent 60km verder.

Langs die pad kry ons die mooiste mense. Die Samburu stam met hulle tradisionele klere. Die kinders is bang vir ons en hardloop die bosse in as ons stilhou. Ons stop by 2 kinders en gee vir hulle lekkers. Ek probeer met die een praat en die enigste Engelse word wat sy ken is ‘Happy’!

Die pad raak beter en ons ry deur die mooiste landskap oppad na South Horr. South Horr is een van die mooiste dorpies op ons toer deur Kenia. Ons kamp baie lekker by Samburu Sports Club vir R 45 pp. Die mense is so vriendelik en hulpvaardig en die geriewe is uitstekend. Die volgende oggend het ons net 80km om te ry tot by Loyangalani so ons kan bietjie laat slaap.

Die pad na Lake Turkana is ongelooflik mooi. Die landskap van rivierlope en bome verander later in ‘n maan landskap van vulkaniese klip. Dis ‘n dorre woestyn waar niks groei nie. En dit raak lekker warm!

Die volgende oomblik sien jy die ongelooflike meer voor jou, reg langs die woestyn. Ons sak af na die meer en gaan kamp by Palm Shades langs ‘n oase. Dis ‘n heerlike 43 grade! Nou soek ons nie meer kampplekke met warm storte nie. Hoe kouer hoe beter!

Op die oomblik sit ek die blog buite onder die volmaan en skryf. Dit is nou 22h00 en omtrent 30 grade. Die wind waai nogal sterk maar ons kla nie. Koel ons darem ‘n bietjie af!

Van Loyangalani ry ons Koobi toe. Nog altyd langs die meer. Die pad is plek plek maar sleg maar dis deel van die avontuur. By Koobi kamp ons voor die HQ van die Sibiloi Nationale Park. Dit is ‘n heerlike aand. Ons eerste aand in 3 dae sonder wind! Die maan kom op oor die vlaktes en die temperatruur is omtrent 30 grade. Toe ons gaan inkruip begin die wind! Ons le weer heel aand en luister na tentvlappe wat raas. Behalwe Roelof. Hy slaap op enige plek in enige omstandigede!

Die volgende oggend pak ons op en die trok moet vir Kobus en Hendrik uit die sand uit winch. Ons ry eers na die museum daar naby om te gaan kyk na die argeologies uitgrawings wat al langs die meer gedoen  is. Baie interessant.

Intussen vind ons uit die Toyota se 4x4 werk nie. En het heel waarskynlik nog glad nie gewerk van ons uit George is nie. Sover kom ons reg.

Ons ry tot op Illeret en stop by die polisie kantoor om ons name in ‘n boek te skryf! Dan ry jy verder en sien later op die GPS jy is nou in Ethiopie! Oppad Omarati toe (so 50km van die grens) stop ons by ‘n paar kinders wat met ‘n klein balletjie sokker speel. Ons gee vir hulle ‘n living ball en kyk hoe hulle sokker speel! Ons ry op ‘n lekker sandpad tot in Omarati en soek na die Immigrasie kantoor. Ons is die enigste mense daar en tog vat dit ure! Alles word baie stadig met die hand geskryf! Dit is nou 2005 in Ethiopie! Weird!Die doeane mannetjie neem sy werk baie ernstig op en ons moet al ons toerusting verklaar en hy wil fisies die chassis nommers van die voertuie sien. Net Roelof kry sy chassis no en hy gee maar moed op met die res van ons! Ons soek ‘n kampplek en kamp by Awassa Camp. Primitief maar ten minste skoon. Hoop nie die wind kom vanaand weer op nie. More ry ons Arba Minch toe.

Ons ry nou weer aan die regterkant van die pad.  In Turmi wag ons vir Kobus en Roelof hulle en gesels solank met die locals! Ek het ‘n foto van my kinders op die dashboard vasgeplak wat groot aandag trek as ons erens stop. Op Turmi bied ‘n man Hendrik 100 000 beeste aan as hy met Lana kan trou! Haha.

Die vrouens in Ethiopie doen al die werk terwyl die mans onder ‘n boom le en slaap. Toe ek die man vra hoekom hulle die vrouens so hard laat werk antwoord hy : Only job man has is driving on the matrass!

Ons ry verder en ‘n mens kan nie glo dat jy binne 300km van ‘n warm woestyn na groen heuwels met ‘n misreen ry nie. Ons ry tot by Arba Minch en kamp by die Bekela Molla Hotel. En toe begin dit reen!! Ons slaan kamp op in die reen en sit in ‘n modderbad en kosmaak! Dit klink vreeslik maar dit was eintlik lekker en groot pret! Ons kry die grootste vlakvark wat ek nog gesien het wat kom kyk wat ons maak vir ete .

Van Arba Minch ry ons deur die mooiste bergpas na Awassa. Hier is net verskriklik baie mense en diere op die paaie. Ons deel weer ‘n living ball uit op ‘n hoogte van 2075m bo seevlak! Die mense is weer heel vriendelik en hier is miljoene kinders. Hendrik probeer Ethiopie se hongersnood eiehandig verlig deur vir al wat ‘n kind is lekkers uit te deel!

Die taal raak nou ‘n probleem en min mense verstaan Engels. Ons kan ook nie lees wat op hulle borde langs die pad staan nie. Toe Roean op Arba Minch by die hotel vra of hulle wifi het toe antwoord hulle :’Yes – Single or Double!’

By Awassa soek ons kampplek maar kry niks aanvaarbaar nie. Ons besluit om vanaand in die Heili Resort te bly en more gaan ons Addis Ababa toe vir ‘n paar dae om net ‘n slag bakkies reg te pak en ‘n paar voertuig problem uit te sort.

Petrol kos R9.50/l en ons kry 2 ETB vir 1Rand

 

Saturday, 3 August 2013

Addis Ababa tot Harar


Die oggend vroeg gaan Hendrik Toyota toe om uit te vind of hulle hom kan help met die 4x4 terwyl ek by die Haili Resort wag. Ek gee glad nie om nie, want dit is ‘n heerlike hotel met wifi. Die hotel behoort aan die atleet Haili Gabri Selassie en die prys is baie billik vir ‘n 5 ster hotel.

Toyota het nie die part wat ons soek nie en ons ry Addis Ababa toe. 60km Voor Addis begin die verkeer. Dit is ongelooflik hoe baie motors, mense en diere op die hoofpad is. Ons sukkel voort tot by ‘n hotel waar ons wil bly. Daar gekom besluit ons ons sal ‘n ander hotel moet soek. In Addis se verkeer is dit nie grappies nie. Ons kry plek by Semen Hotel. Nie wafers nie, maar darem skoon! Moreoggend moet ons Toyota en Izuzu toe.

Na ontbyt durf ons weer die verkeer aan. Die een oomblik se die GPS Toyota is 31km – Die volgende oomblik ‘arrive in 1184km!’! Ons bereik nuwe hoogtes – 2935m bo seevlak – en dit in Addis Ababa! Addis is die derde hoogste hoofstad in die wereld.

Ons probeer weer. Ons ry 4 keer verby ons hotel voor ons die regte pad kry! Roelof, met ‘n kamptige gids’, vaar nie veel beter nie.

Uiteindelik staan ons voor Toyota. Hulle is weereens ongelooflik behulpsaam en help ons dadelik. Terwyl hulle aan die bakkie werk loop ek bietjie rond en verkyk my aan hoe groot ‘n garage kan wees. Daar word 112 motors gelyk gediens terwyl daar so 200 buite staan en wag. Hulle parte afdeling is groter as die hele Loerie Toyota op George! Die hoof van die Diensafdeling trek sommer self ‘n jassie aan en begin aan die bakkie werk. Die part wat ons nodig het kos R31 000.00 en kan oor 3 maande daar wees! Hy haal die part af – wikkel hier en daar – en verduidelik vir 5 mechanics hoe die ding werk en hoekom hy nie werk nie. Sit alles terug en jipee – Ons het weer 4x4 vir R400.00!

Nou wil ons net so gou as moontlik uit Addis kom. Weer 60km deur die verkeer oppad na Awash National Park.

Ek het blykbaar ‘n paar mense laat worry met my bewoording ‘Vlug uit Addis’ Ons wou net uit die verkeer kom. Julle verstaan nie hoe vriendelik en behulpsaam die mense is nie. Wild vreemde mense val oor hulle voete om jou te help! Roelof het by ‘n ATM gestaan met ‘n ry van 20 mense. Die volgende oomblik stop almal en staan opsy sodat hy kan geld trek. Kobie wou iets by ‘n juwelier koop. ‘n Vreemde man verduidelik waar die beste plek is en Kobus bly in die bakkie terwyl sy die juweliersware gaan haal en bakkie toe neem vir Kobus om te kies. Selfs die taxis is 99% van die tyd behulpsaam al ry hulle soos jaagduiwels. Orals in die verkeer draai hulle vensters af en vra uit en gesels.

Ons kom redelik gatvol by Awash National Park uit en verwag nie veel nie, maar word aangenaam verras. By die Awash Falls Lodge het hulle vir ons kampplek vir R250 reg langs die watervalle. Baie mooi! Die lodge bestaan uit huisies langs ‘n rivier met ‘n restaurant. Ons besluit om by die restaurant te gaan eet.  Hulle dek vir ons ‘n tafel buite en steek vir ons ‘n kampvuur aan. Die kos is soooo lekker en goedkoop. Hulle bring kort – kort vir jou tradisionele koffie op die huis. Selfs by jou kampplek.

Dis oggend en vandag word daar skoongemaak. Die hele bakkie word afgepak en met seep en water gewas. Ons laat was al ons klere, beddegoed  en handdoeke. Behalwe vir die 2 mak volstruise is hier WEER bobbejane wat kort kort ons goed kom steel. As enige van julle ‘n trip in Afrika beplan – bring ‘n paintball gun saam! Hulle skrik nie meer vir stokke of kettys nie.

Hier is ongelukkig nie wifi nie en ek dink nie ons gaan gou weer internet he nie. Ethiopie is ver agter die res van Afrika wat internet betref.

Van hier gaan ons na Harar. ‘n Antieke stad met ‘n muur om. Dan weer terug hierheen vir een aand voor ons verder Noord gaan om na die kerke te gaan kyk.

Groete aan almal en dankie dat julle ons reis volg en oor ons worry!. Dis lekker om ons ervaringe met julle te deel. Xxxxx Dankie ook aan al die mense van Watsons Meat, Margo Swiss en Eden Aluminium dat ons so lekker kan vakansie hou terwyl julle so mooi na ons besighede kyk. Ons waardeer dit regtig baie!

Die oggend vroeg ry ons Harar toe op ‘n baie mooi teerpad. Dis bergpas op en bergpas af. Ons ry die heeltyd bo 2000m bo seevlak. Oppad gaan ons verby 'n konvooi van 'army tenks'. Weet nie waarheen hulle oppad is nie. Hopelik nie erens op ons roete nie!

 In Harar bly ons in die Plaza Hotel. Seker gelykstaande aan ons 1 ster, maar dis maar Afrika. Ons trek geld en gaan eet aandete met ‘n tuk-tuk. Dit bly maar die beste manier om in Afrika te travel. Kos maar so R15. Ons kry ‘n gids om ons die volgende oggend die antieke stad te gaan wys vir R400 vir almal saam. Ons rekening by die restaurant is R450 vir 8 mense en ons het lekker gee et!

Die oggend vat ons en die gids die tuk-tuks na die ou stad. Wat ‘n belewenis! Dit is ‘n World Heritage Site, maar dit kort aandag as hulle dit wil bewaar vir die nageslag. Die stad is 1000 jaar oud met die nuutste gebou 150 jaar oud. Die geskiedenis is geweldig interesant en mens moet maar verby die vuil kyk om dit te waardeer. ‘n Paar van die belangrikste geboue word darem gerestoreer. Die stad is omring met ‘n muur van ‘n 1000 jaar oud met 5 ingange (Gates). Binne die muur is dit ‘n miernes van mense en diere!  Nie een oomblik voel jy onveilig tussen die duisende mense nie. Vanaand gaan ons kyk hoe hulle die hyenas voer. Die hyenas kom al vir vir honderde jare elke aand in die stad in en maak basies die strate skoon. Daar is blykbaar so 60 hyenas wat in die aand van die omgewing in die stad inkom en hulle is al gewoond aan die mense. Die gids se ons moet net in die middle van die straat loop, want die hyenas loop langs die kant. Daar is spesiaal opening in die muur gemaak sodat die hyenas in die stad kan kom.